Hoe gereeld kan ‘n mens opgewonde raak in die kerk oor iets regtig SPLINTERNUUT? Wel – hier is dit nou! JONK LIVE 2008 is oppad!
Daar is al vir ‘n geruime tyd die groeiende behoefte na ‘n nasionale geleentheid vir jongmense (en hul gesinne) in die kerk. Na vele gesprekke is daar besluit om hierdie behoefte op een wyse aan te spreek - ‘n Jeug Musiekfees. Hierdie musiekfees volg op die groeiende energie wat orals beleef word in die kerk rondom nuwe lof-en aanbiddingsmusiek. Die werk van FLAM sluit hierby aan. Daar is reeds 2 CD’s op die mark wat nuwe musiek vir die kerk beskikbaar stel.
Die doel van die musiekfees is dan kortliks:
Die daarstelling van ‘n platform vir die skep en tentoonstelling van nuwe lof-en aanbiddingsmusiek vir gebruik in die kerk (gefokus op jongmense).
‘n Gehalte Fees vir jongmense, gesinne en professionele persone wat werk in jeugbediening op nasionale vlak wat energie en belewenis kweek.
‘n NG Kerk inisiatief wat graag wil hande vat met ander kerke en organisasies wat hierdie doel kan ondersteun.
‘n Wonderlike belewenis om al die musikale gawes van Christene te kan vier!
JONK live vind plaas in Pretoria oor die naweek van 29-31 Augustus 2008. Jongmense, gesinne en almal wat JONK voel kan vir die naweek kom kamp. Deur die dag sal daar ruim geleentheid wees vir elkeen wat nuwe musiek skryf, gemeente groepe wat musiek maak en elke opkomende musikant wat daarvan hou om lof-en aanbiddingsmusiek vir die Here te skep, om op te tree. Die aandfees word vervaardig deur Louis Brittz. Verskeie plaaslike bekende kunstenaars sal ons lei in die nuwe musiek van die dag. Dagbesoekers sal ook welkom wees.
Die belangrikste ding nou is OM DIE DATUM OOP TE HOU EN VAS TE MAAK op jou gemeente se kalender. Hierdie nuwe prokek van JONK beloof om nuwe energie in te blaas in die musikale en kreatiewe wêreld van die kerk! Daar is soveel talent in die kerk – dis tyd om dit bymekaar te trek.